Tuesday, October 11, 2011

Dag 2 - 8 Oktober

Uitsig uit my hotelkamer

uitsig uit my hotelkamer, anderkant toe
Nadat ons by die hotel ingeboek het, het ons koffie gemaak en gewonder oor kos en klere. Ons moes was wat ons aanhet want nugter weet wanneer ons uiteindelik ons tasse sou kry. Arme Alta was heeltemal deurmekaar. Die hotelontvangs het vir ons 'n 24h take away menu gegee en ons het nog gewonder of ons moet bestel. Iewers in Alta se doodmoechaos het sy gebel en kos bestel en daarvan vergeet. Ek het haar gevra of s bestel het, want sy het met iemand gepraat toe ek uit die bad klim, maar sy het iets gemompel van 'wie wag nou 'n uur vir kos'. Ons het toe gaan slaap.

DRIE (3am) Alaskatyd breek iemand toe Alta se deur af. Ek skrik my morsdood, en toe sy uiteindelik die deur oopkry staan daar 'n verdwaasde mannetjie met 3 sakke vol kos. Sy het 2 hero rolls vir elk van ons bestel, plus tjips en vreeslike slegte Root Beer koeldrank. Dit was vreeslik lekker, maar absurd baie kos op die snaakste tyd denkbaar! Alta kon nie eers onthou dat sy dit bestel het nie, en daar was geen manier dat ons eers een van daai hero rolls kon opeet nie!

No comments:

Post a Comment